Op baie plekke in Suid-Afrika is gebedsgroepe besig om toe te neem in getalle

met ernstige voorbidding vir Herlewing.

Hierdie skrywe van ds. FJ Liebenberg, oor die Herlewing wat in 1858 begin het, 

word opnuut versprei om die gebedsgroepe aan te moedig om voort

te gaan met hul Herlewingsgroepe na die Almagtige God.

 

 

 

Herlewing in Suid-Afrika

 

deur Ds F.J. Liebenberg

 

“Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond;

Ek sal My Gees op jou nageslag giet en My seën op jou nakomelinge.”  – Jesaja 44:3

 

 

SOOS daar tye van verkwikking in die enkeling se lewe kom wanneer hy na lange wag daarom gebid het omdat daar ‘n maerte in sy siel was, net so kom daar tye van kragtige herlewing in die lewe van die Kerk na tye van verslapping en nadat die kinders van die HERE Sy aangesig aanhoudend gesoek het en gewillig was om die prys van selfopoffering te betaal.

 

So het daar in die jare vanaf 1858 ‘n baie kragtige werking van God se Gees in SA plaasgevind, wat die gevolg was van lang, maar ernstige gebedsvoorbereiding deur menige kind van God wat bekommerd gevoel het oor die lae geestelike toestand van sovele in die Kerk van Christus, omdat die Gees van God as’t ware direk tot die kinders van die HERE begin spreek het oor hul sondige toestand.

 

Maar ook was die roering in Suid-Afrika tot ‘n mate die gevolg van berigte oor groot herlewings in Amerika en Brittanje in die jare 1857-1858.

 

Die kenmerke van hierdie opwekking was dat mense sommer direk vanuit die Hemel deur God se Gees tot oortuiging van sonde gekom het. Die Gees het so kragtig gewerk  dat mense nie hulself kon verhelp om selfs in die openbaar tot God om genade te roep nie!

 

Liefde vir verloregaande siele was nog ‘n kenmerk van hierdie opwekking.

 

Die herlewing het vinnig opgevlam en uitgebrei en dit het nie lank geduur nie, of die Gees van God het ook in Brittanje, Ierland en Wallis begin werk.

 

Hierdie heerlike nuus het SA begin bereik en die kinders van die Here ook in ons eie kerk, het verlang na ‘n dergelike en nodige herlewing.

 

In die Kerkbode van Augustus 1859 kom ‘n oproep tot gebed onder leiding van di. Faure, Morgan en Cameron namens die Zuid-Afrikaansche Evangeliese Verbond aan Evangelie-dienaars van alle kerkgenootskappe.

 

Onder meer staan daar: Dat ‘n herlewing in die Godsdiens nodig en ernstig te begeer is, is ‘n feit wat niemand in twyfel sal trek nie, wat enigsins bekend is met die geestelike toestand van die kerke in hierdie hele kolonie. Dat sodanige opwekking teweeg gebring kan word alleen deur ‘n oorvloedige uitstorting van die Heilige Gees en dat die Gawe van die Heilige Gees beloof is in antwoord op gebed, is waarhede wat duidelik in die Skrif geleer word.

 

Daar word besluit: Dat ‘n reeks preke gelewer word op agtereenvolgende Sondae oor die Goddelike persoonlikheid, die ampte en die werk van die Heilige Gees, dog, meer besonderhede van die groot behoefte wat daar teenswoordig bestaan aan die ernstige gebed in die binnekamer en in die openbaar om ‘n algemene uitstorting van die Gees op die siele van individuele Christene, op die gemeentes waar hulle aanbid, en op die belydende Kerk van Christus.

 

Die redakteur van Die Kerkbode het ses artikels geskryf oor gebed, ‘n verwerking van biskop J.C. Ryle oor die onderwerp. Ook is geskryf oor die uitstorting van die Heilige Gees.

 

In Oktober van daardie jaar, verskyn ‘n brief, deur 14 van ons ouere en mees bekende predikante waarin hulle melding maak van die merkwaardige Geestelike opwekking in Amerika en elders, asook: Onder onmiskenbare tekens word die Heilige Gees daar oor duisende uitgestort. Die verbasendste omkerings het plaasgevind.

 

Die brief sluit met die volgende oproep:

 

“Ons bid u, pleit op die beloftes van God, grond u geloof en u verwagting daarop. Ons wek u ernstig op om gelowig en vuriglik elke week een uur, dit sy saam met andere of in die binnekamer, God te bid dat Hy ook ons land genadiglik mag besoek en ons die seën van die uitstorting van die Heilige Gees mag gee, soos Hy dit op die oomblik besig is om uit te stort op ander dele van die aarde.”

 

 “Om ‘n verslag te gee van die hele verloop van die herlewing in SA, sal te lank neem. Ons berig derhalwe net oor ‘n paar gemeentes om u ‘n beeld te gee van hoe die Heilige Gees gewerk het.

 

“Die opwekking het net na ‘n Worcester-konferensie met groot krag op Montagu, waar daar toe nie ‘n predikant was nie,  uitgebreek.  Sonder om dit te besef, was hierdie gemeente reeds vir ‘n jaar lank deur die HERE vir die opwekking voorberei. Hier was gewoonlik net drie mense in ‘n biduur.

 

“Januarie is ‘n biduur begin wat vroeg op ‘n Sondag plaasgevind het. Die Sondagdienste wat vroeër swak bygewoon was, het dadelik begin verbeter en die belangstelling in die Woord het begin toeneem.

 

“Daar was ‘n groter lus om te bid en ‘n groter liefde na God se Woord. Mense het begin stroom na die bidure. Bidvertrekke het spoedig te klein begin word. Daar is toe besluit op afsonderlike bidure vir mans, vroue, seuns en meisies.

 

“Bidure is later daaglikse gehou, soms meer as een keer per dag. Daar was ‘n kragtige werking van God se Gees in so baie harte.

Mense het in hulle nood uitgeroep: Wat moet ek doen om gered te word!

 

“Beraders het dae aaneen gewerk sonder rus. Bejaardes en jongmense, Blank sowel as Bruin, was aangeraak. Daar was haas geen huis op die dorp wat nie betrokke was nie. Bevooroordeeldes is self ook deur die Gees aangegryp. Die hele samelewing het verander, en is letterlik omgekeer.

 

“Worcester het dit ook belewe. Dit het in die Breërivier en Goudini begin en deurgedring na die dorp en ander wyke van die gemeente. Soms in die eensaamheid en soms in die openbare bidure het daar van die kragtigste werkinge van die Gees geskied. Oud en jonk het gedring gevoel om na die bidure te gaan.

 

“Oor wat op die dorp gebeur het, vind ons ‘n beskrywing van in die Kerkbode van 31 Augustus 1905:

“Op ‘n Sondagaand was ons weer bymekaar, sowat 60 van ons. Ek het ‘n vers laat sing, ‘n gedeelte uit die Skrif voorgelees, ‘n gebed gedoen, en daarna soos ons gewoonte was, geleentheid gegee aan wie ook al ‘n vers wou voorlees en wou voorgaan in gebed.

 

“’n Bruinmeisie van 15 jaar het agter in die saal opgestaan en wou sy weet of sy ‘n vers kon opgee.

 

“Na huiwering het ek op aandrang van die Gees van die HERE haar toegelaat om dit te doen. Dit was Gesang 39 vers 4.

 

“Daarna het sy haar hart in ‘n roerende gebed uitgestort.

 

“Onder die gebed was dit asof daar ‘n geruis in die verte hoorbaar was wat al luider geword het en al hoe nader gekom het, totdat dit wou voorkom asof die hele saal beweeg word.

 

“Met enkele uitsonderings het almal wat aanwesig was begin bid. Dit was  ‘n oorverdowende ‘geraas’.

 

“In daardie tyd was ds Andrew Murray predikant op Worcester. Dieselfde Sondagaand het hy ‘n diens by ‘n gemeente in Engels waargeneem. Ouderling Jan Rabie by ons saal  verbygekom en die “lawaai” gehoor. Hy het dadelik vir ds Murray gaan roep.

”Ds Murray het na vore gestap en my laat verstaan dat ek van my knieë af moes opstaan. Hy vra toe wat gebeur het, en het daarna ‘n ent in die saal tussen die mense ingeloop en so hard hy kon gebied:  Mense bly stil!

 

“Maar die gebede het eenvoudig aangehou. Weer het hy hardop geroep: Mense ek is julle predikant van God gestuur, bly tog stil!

 

“Dog, daar was niks aan te doen nie. Die mense het hom nie gehoor nie. Hulle het aangehou met bid en om genade en ontferming geroep. Ds Murray sê toe ek moet ‘n vers laat sing: Help die siel wat radeloos Skrei,  maar dit het ook nie gehelp nie, die biddery het net aangehou.

 

“Ds Murray sê toe God is ‘n God van orde en hier is alles wanorde, en daarmee het hy die saal verlaat.

 

“Van toe af is die bidure elke aand gehou. Die bidure het soms tot drie-uur in die more geduur en dan was sommige nog traag om die saal te verlaat. Al singende het hulle dan deur die strate geloop.

 

“Die saaltjie het gou te klein geword en ons moes na die skoolgebou verhuis. Ook dit het te klein geword toe die mense van buite die dorp begin instroom om die bidure by te woon.

 

“Die eerste aand in die groter gebou was ds Murray voorsitter. Nadat hy gelees, ‘n paar opmerking gemaak en gebid het, het hy geleentheid vir gebed gegee. Onder die gebed het die gedreun in die verte weer hoorbaar geword en spoedig was die hele vergadering aan die bid.

 

“Ds Murray het weer onder die mense ingeloop om orde te probeer handhaaf…

 

“’n Vreemdeling wat by die deur alles gadegeslaan het, het saggies na ds Murray gestap en aan hom gesê: Wees versigtig wat u doen; dit is die Gees van die HERE wat hier werk. Ek het so pas van Amerika af teruggekom en wat hier gebeur is presies wat ek daar met die herlewing gesien het.

 

“In ‘n ander deel van die gemeente op die plaas Aan De Doorns, het die Here ook so wonderlik gewerk.

 

“Daar was drie persone wat deur God gebruik was: Mnr Jan Naudé, seun van mnr Dawid Naudé, die eienaar van die plaas, mej. Van Blerk, ‘n susterskind van mnr Dawid Naudé, en ou Saul Pieterse, ‘n Bruinman wat bekend gestaan het as Saul die Profeet.

 

“Hierdie mense het vir ‘n baie lang tyd ernstig om herlewing gebid.

 

“Op ‘n sekere aand in hierdie tydperk het die Gees van die HERE sommer skielik op kragtige wyse onder die Bruinmense begin werk. Dit het so erg daaraan toegegaan dat mej. Van Blerk na buite gehardloop het om hulp te gaan soek.

 

“Sy moes hierna dorp toe weens haar fisiese afgematheid, maar na ‘n week was sy weer terug. Die Bruinmense het haar halfpad gaan ontmoet weens hulle dors na saligheid.

 

“Bidure was in die Naudé-woning elke maand volgens gewoonte gehou, maar toe begin die mense in die buurt die bidure toe te stroom en wat elders gebeur het, het ook hier gebeur. Die Gees het hom eenvoudig nie laat keer nie!

 

“Die biduurgangers was Blankes en Bruinmense. Daar was ‘n lieflike gees onder hulle. “Een aand het ds. Murray gekom en probeer om die mense tot orde te roep, maar net nadat hy gepraat en daar weer geleentheid vir gebed gegee was,  het die almal sommer oral in gebed en smeking om genade uitgebreek.

 

Ou Saul spring toe op en sê aan ds Murray en mnr Naudé: Gooi nou die damwal as julle kan, waarmee hy honend bedoel het: Julle wil mos die Gees keer, doen dit nou as julle kan.

 

“Op die plaas het feitlik almal tot bekering gekom. Berigte van die herlewing het versprei sodat mense met waens en motors van ander gemeentes na die plaas gekom  het om dit te beleef het. En daar het menigeen vir die eerste keer die Lig gevind.

 

“Dit word vertel dat mense soms net wanneer hulle aan die deurknop geraak het, so deur God se Gees oortuig geraak het van sonde, dat hulle platgeval en uitgeroep het:

 

God, wees my arme sondaar genadig!

 

“Die boerdery moes drie maande lank gestaak word vanweë die toeloop van mense wat gehelp moes word. Hier het wyle ds Rabie ook vir God gevind en besluit om na die Kweekskool te gaan.

 

“Dit was wonderlike tye hierdie. Vrugte was wonderlik en blywend. Ander plekke waar die HERE ook lieflik gewerk het was Wellington en Calvinia. Lidmate van albei gemeentes wat in daardie stadium ook nie predikante gehad het nie, het die herlewing op  Montagu, besoek en so die herlewingsvuur na hul onderskeie dorpe teruggeneem.

 

“Waarlik, wanneer die HERE werk dan gebruik Hy diegene wat gewillig is om Hom geheel en al te vertrou en te gehoorsaam.

 

“Oor die herlewing op Graaff-Reinet, skryf Die Wekker van 1 Mei 1861: Kan u glo dat die opwekking werklik hier is en dat God se Gees waarlik uitgestort word op Graaff-Reinet? Ook hier was die kreet:

 

Wat moet ek doen om gered te word!

 

“Die Sondagaand na die Nagmaal het die HERE wonderlik gewerk. Spotters is deur die HERE getref toe hulle bloot uit nuuskierigheid daar aangekom het.

 

“Die biduur het vanaf Sondagaand  tot Dinsdag 12nm geduur en boere het die middag eers na hul plase teruggekeer.”

 

Dan skrywe ds. Liebenberg: Dis is genoeg om u te laat verlang dat God in Sy teerste liefde ook vir ons in hierdie dae opnuut sal ontmoet op ‘n ewe kragtige wyse.

En, o, hoe nodig is dit nie! Maar dan sal daar ‘n steeds groter wordende aantal bidders moet opstaan wat bereid sal wees om aan die voorwaardes te voldoen naamlik: Hulle sal moet opoffer en tyd maak vir gebed.

 

Die antwoord is om by bestaande gebedsvure aan te meld of om nuwes, ja, sommer in u huis, te begin… vandag nog. Ons het ‘n herlewing nodig, meer as ooit te vore. Hierdie keer kan dit in SA begin en soos ‘n kragtige veldbrand deur die wêreld woed! 

 

Dit is wat Suid-Afrika so broodnodig het:  Verootmoediging en herlewing!

 


Ander Artikels