Gebede wat geskiedenis gemaak het

 

 

Toe Moses vir veertig dae op die heilige berg gebid het –  waarheen hy teruggekeer het nŕ Israel se skan­delike sonde in die aanbidding van die afgod – het die HERE aan hom gesę: “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer.”

 

Moses was bang vir die toorn en die grimmigheid van die HERE (Deut. 9:19) maar hy het Hom nie met rus gelaat nie. Geensins. Hy het een van die magtigste gebedstryde van alle tye gestry. Die groot wetgewer kon die stryd gewonne gegee het en hom verlustig het in ‘n ietwat selftevrede be­wustheid van ‘n komende persoonlike heerlikheid, want die HERE het gesę: “Dan sal Ek jou tot ’n groot nasie maak.”

 

Maar hy het hom nie van stryk laat bring nie. Sy gebed verrys tot ‘n majestueuse klimaks (wat ‘n mens onwil­lekeurig laat dink aan die majesteit van die Een wat gebid het dat sy moordenaars vergewe mag word) met die woorde: “... Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit U boek wat U geskryf het!” (Ex. 32:31, 32).

 

Geen wonder dat Moses oorwin het nie! Daarbenewens is daar gewig en krag in Moses se gebed weens die feit dat sy grootste las die eer van God was. Sy pleidooi om vergifnis was: “Sodat die land waar U ons uitgelei het, nie kan sę nie: “... Omdat die HERE hulle nie kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie ...” (Deut. 9:28).

 

‘n Magtige gebedsoorwinning was die gevolg: ‘n oorwin­ning wat nie vergelyk kan word met enige ander in die bladsye van die Ou Testament nie –  en dié wemel van groot gebede –  en so is die lot van ‘n nasie bepaal. Dit is so raak om te sę dat ons gebede soveel werd is as wat ons werd is. Moses het alles, selfs sy eie ewige geluk­saligheid, in die stryd gewerp en vir Israel in die bres getree.

 

Sulke gebede kan nie weerstaan word wanneer ‘n nasie se toekoms in die weegskaal is nie. Hoe weet ons dit? Die HERE sę: “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat 'n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.”

Vandag soek God na my en jou om in die bres te staan vir Suid-Afrika!

 

Dan is daar Dawid se groot gebed toe Absalom in opstand gekom het en die koning in skaamte moes wegvlug. Toe die verdringer triomfantelik Israel se hoofstad, Jerusalem, in gemarsjeer en op Dawid se troon gaan sit het, het die grote koning se saak hopeloos gelyk. Soos die Psalms egter getuig, was die koning ‘n man van gebed. Ons vind die verhaal van Dawid se smart en gebed in Psalm drie: “O HERE, hoe het my teenstanders vermenigvul­dig! ... Baie sę van my: Daar is geen heil vir hom by God nie ... Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Ek het gaan le en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my. Ek sal nie vrees vir tienduisende mense wat rondom teen my gereed staan nie ... Die heil behoort aan die HERE; laat u seen wees oor u volk! Sela:

 

Die oorwinning wat later op die slagveld behaal is, Absalom se tragiese einde en die herbevestiging van Dawid as koning, was eers in die ongesiene gebied van gebed besleg. Hierdie besondere tipe van die Messias het hier die versekering dat sy geroep gehoor is, ontvang. Ja, die lot van konings en nasies kan bepaal word deur die knie wat in die teenwoordigheid van God buig, en deur die stem van sme­king wat die Troon van Genade bereik.Lees die boek Daniël en sien hoedat sy gebede die groot Babiloniese en ook die Medo-Persiese ryke geskud het.

 

Hy het nie die koning se bevel gevrees nie en het geweier om die beeld te aanbid wat daar gestel is. Hy het die goddelose politieke kwaaddoeners wat sy ondergang gesoek het, trotseer. “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ‘n dag op sy knieë geval en gebid, en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.” Dan. 6:11

 

So ‘n oortreding van die koning se gebod – want die beplanners, wat hom noukeurig dopgehou het, het dadelik die saak aan sy majesteit bekendgemaak – het die straf wat in die koning se bevelskrif bevat was, op die profeet se kop neergebring en hy is in die leeukuil gewerp. Ek hoef nie oor die wonderlike oorwinning van die pro­feet in besonderheid in te gaan nie. Wie is daar wat nie weet van die Engel wat die bekke van die leeus toegestop het nie, of van die aaklige uiteinde van die goddelose politici wat Daniël se lewe gesoek het nie?

 

Die punt is dat die bevelskrif wat deur die koning uitgereik is as gevolg van die wonderlike oorwinning wat die HERE teweeggebring het, die hele koninkryk tot op sy fondament moes geskud het. “Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees! Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe.Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die Hemel en op die aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.” Dan. 6:26-28

 

Dan is daar Paulus se middernaggebed in daardie binneste gevangenis van Filippi wat geskiedenis gemaak het. Dit was een van die beslissingsoomblikke in die mensdom se verloop, omdat hierdie man die HERE se uitverkore werktuig was om die boodskap van die Kruis uit te dra. Sou hy Europa met die blye boodskap van die Evangelie van Christus kon binnegaan, in ooreenstemming met die roepstem van die man van Macedonië wat in ‘n gesig vir die apostel gesę het: “Kom oor en help ons?” Die magte van die duisternis het nee gesę! Slae en die blok en ‘n muwwe gevangenis sel was hul antwoord. “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing.” Dit het die saak verander.

 

Paulus sou Europa triomfantelik binnegaan om die boodskap van die Kruis te verkondig. Die fondamente van die gevangenis is geskud. Die tronkbewaarder het uitgeroep: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Die blye boodskap van die liefde van die Verlosser is verkondig. Die stem van hierdie groot geskiedenismaker, wat die fondament van die Christelike orde in die vernaamste sentrums van die Romeinse Ryk gelę het, is gehoor in die strategiese stede van Griekeland en later Europa. Staan daar nie geskryf nie: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy moet My eer”?

 

Die grootste gebed op die mensdom se pad van smarte deur die jare was die angsgeroep van die Seun van die Mens in die tuin van Getsemané. Dit was hier waar die ewige lotsbestemming van nie slegs volkere nie, maar die ganse mensdom besleg is. Opgesluit in daardie bittere uitroep, “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” was die moontlikheid, menslik gesproke, dat die afgrond die mensekinders sou verswelg in ‘n nag van ewige wanhoop, want die Verlosser het die sleutel in Sy Hand gehou.

 

Hy moes gekruisig word; Hy moes die heuwel van Golgota beklim. Hy wat geen sonde geken het nie, moes sonde gemaak word vir ons, sodat ons die geregtigheid van God in Hom kon word. Nee, dit was nie vrees vir die dood – ’n dood soos ‘n martelaar dit sou tegemoetgaan nie. Dit was die aaklige vervloeking van die sonde van die węreld wat Hy op Hom moes neem. Geen wonder dan dat daar die bloedsweet, die aaklige uitroep van foltering, en die onversadigde soeke na ‘n bietjie vertroosting in die geselskap van sy dissipels (wat geslaap het) was nie.

 

Die Seun van die Mens kom egter triomfantelik te voorskyn. Die stryd is gewonne! Die sondige mensdom met sy pyn en skande en dood sal verlossing vind —   ja, sal die hemel self vind in sondevergifnis en ‘n alles-insluitende verlossing in die bloed van die Verlosser se Kruis. Wat van Hom geskryf is, sal vervul word. In die gebed het ons HERE die oorwinning behaal wat slegs ‘n paar uur later op Golgota verseël is; want die kern van daardie ontsagwekkende gebed, die mees betekenisvolle gebed der eeue, was nie, “As dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” nie, maar, “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

 

Dit is egter nie slegs in die bladsye van die Heilige Skrif wat ons voorbeelde vind van gebede wat die geskiedenis verander het nie. Laat ons nou aandag skenk aan die geskiedenis van die Kerk. Hier kies ons een voorbeeld uit die talle wat beskikbaar is. Dit sou moeilik gaan om ‘n meer kritieke uur in die lewe van die Kerk te vind as toe Graaf von Zinzendorf in 1714 te Herrnhut, Duitsland, die naam van die HERE begin aanroep het. Hy was diep neergeboë in ‘n sieleangs omdat by gesien het wat aangaan onder Protestantse gelowiges van die verskillende evangeliese bewegings. Dit was ‘n tydperk van vurige vervolging.

 

Luther het sy werk gedoen.

Calvyn het op magtige wyse gewerk.

Huss was ‘n gewyde nagedagtenis.

Zwingli het sy volgelinge gelei.

 

Maar daar was verwarring en steeds het die bloed van Christen-martelare gevloei. Van sy jeug af was Graaf von Zinzendorf ’n ywerige Christen asook ’n man van aksie. Hy het besluit om die deure van sy groot landgoed vir die vervolgde Protestante van Europa oop te stel, sodat hulle iewers ‘n skuilplek teen die storm kon vind. Van ver en naby het Christene gekom –  gelowiges van elke teologiese kleur en van al die sektes.

 

Toe het Von Zinzendorf se barenswee begin. Hy het gehoop op liefde en begrip: wat hy gehoor het was die stem van geskille. Twis oor ‘n honderd en een sake van minder belang op die gebied van leerstellings en gebruike, was bitter en sonder einde. Von Zinzendorf het verlang om God se kinders verenig te sien, soos hulle Verlosser gebid het dat hulle sou wees, met ‘n heilige ywer vir die sending.

 

Wat oorsese sendingwerk betref, was Protestantisme morsdood. Eindelose teologiese twispunte het die lewe daarvan verteer. O, om die wonde in die Liggaam van Christus genees te sien en om te sien dat die Kerk sy Opdrag volbring: “Gaan die hele węreld in en verkondig die Evangelie!” Von Zinzendorf het nagte in gebed deurgebring. Andere het in dieselfde gees by hom aangesluit en so het hulle in hul vlees aangevul die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam.

 

Op 14 Augustus in die jaar 1714 het die antwoord gekom. Von Zinzendorf het ‘n nagmaaldiens  gereël wat deur almal bygewoon kon word. En terwyl hulle die tekens van die gebroke liggaam van die Verlosser deelagtig geword het, het die Son van geregtigheid opgegaan en daar was genesing onder sy vleuels. Die heerlikheid was meer as wat vlees en bloed kon dra. Gelowiges het in die HERE se teenwoordigheid neergeval. Die Kruis met sy diepste betekenis is onthul. Toe die gemeente opgestaan het, het ‘n wonderlike gedaanteverwisseling plaasgevind.

 

Van daardie dag af aan was Christus alles en in almal. Die sogenaamde Morawiese beweging het op dreef gekom. Hulle het ‘n 24-uurse gebedsiklus gevorm en groepe het beurte geneem, dag en nag vir tien jaar lank. Die resultaat? In 25 jaar se tyd het een honderd sendelinge na alle dele van die aardbol uitgegaan. Die Morawiërs het ’n węreldwye beweging vir die verkondiging van die Evangelie op tou gesit wat uiteindelik Protestantisme van polemiek tot sending laat swaai het. Die groot eeu van die moderne sending is alles verskuldig aan Von Zinzendorf en die Morawiërs.

 

John Wesley, wat ‘n geestelike kind van die Morawiërs was, het na sy grootse ondervinding in Aldersgate na Herrnhut gegaan om eerstehands te sien wat die HERE daar doen. Hy het aan vriende tuis geskryf en gesë: “Ek het ‘n kerk gevind waar ‘n mens die atmosfeer van die Hemel self inasem.” As gebede ooit geskiedenis gemaak het, dan het dié van Graaf von Zinzendorf dit gedoen. Neem maar as getuie die moderne sendingbeweging.

Sekulere geskiedenis is nie arm aan voorbeelde van gebed as die beslissende faktor in die groot krisisse wat mettertyd op sowel nasionale as internasionale vlak ontstaan het nie.

 

Dunkirk het die donkerste uur vir die geallieerde magte in die Tweede Węreldoorlog uitgespel. Frankryk het geval en drie honderd duisend Britse soldate het op vlug geslaan in die rigting van die Kanaal. Hitler het brutaal gelag. Ja, die ruggraat van die Britse magte sou binnekort van kant gemaak wees. Menslik gesproke was daar geen hoop vir Tommie nie. Dit was juis toe dat Koning George VI ‘n dag van gebed dwarsdeur die Britse Ryk uitgevaardig het. Baie van ons wat nie onder die kroon staan nie, het deelgeneem. Wat ‘n dag was dit nie, want die HERE het die hemele geskeur en neergedaal. Hy het sy magtige Arm ontbloot en gewerk soos slegs Hy kan.

 

Aan Duitse kant het daar so ‘nn geweldige storm ontstaan as wat in menseheugenis nie ondervind is nie. Elke vliegtuig was gegrond. Tenks bet in die moddermoeras vasgeval. In die kloue van die storm bet nie een soldaat beweeg nie.

Aan Britse kant was die Kanaal soos glas. Nooit tevore was die water so stil nie. Duisende bootjies bet die hele dag deur been en weer beweeg – selfs vroue met klein vaartuigies het te hulp gesnel. Twee honderd en negentig duisend Britse troepe is gered. Die eiland is nooit aangeval nie.

 

Hitler is by Dunkirk tot ‘n halt geroep. Hoe? God het tussenbeide getree in antwoord op gebed, want as daar ooit ‘n regverdige saak was in die talle konflikte wat al die aarde met bloed deurdrenk het, waarin die HERE wat die heelal in geregtigheid bestuur sou steun, dan was dit dié van die geallieerdes in die Tweede Węreldoorlog.

 

Die Britse soldate het, volgens ‘n artikel wat in die amptelike mondstuk van ‘n weermag-organisasie, “The Officers’ Christian Union”, verskyn het, gebedskringe gevorm om hulle dank te betuig.

Daar staan nog geskrywe: “... en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer:” (Psalm 50:15), aldus dr. FJ Heugel.

 

Getuienisse van wonderwerke, van Goddelike ingrype kom ook in ons dag voor. Ons verwelkom sulke getuienisse.  Sjibbolet 

 


Ander Artikels