DIE HEL

 

Die vreeswekkende werklikheid van die Hel en jou Goddelike verantwoordelikheid om die Goddeloses te waarsku. Oor die hel self kan ons niks sê nie want ons was nog nie daar nie, maar, kom stap saam met ons deur die voorportaal van die hel.

 

Ons wil julle voorstel aan die naakte realiteite van die Dodesel sodat julle kennis kan maak met die onherroeplike oordeel van die kermende en berouvolle smart tesame met die ellende van die verlorenes.

 

Ons doen dit om julle te motiveer met die besef dat as iemand nie wedergebore is nie, God nie dien nie, dan wag ‘n ewige skrikwekkende Hel op hom en haar.

 

Kom stap dus saam na die Dodesel.

 

Ons doen dit in die hoop dat die wedergeborenes sal besef dat hulle ‘n roeping het om uit te reik na die verlorenes met wie hulle daagliks in kontak is.

 

Ons, die wedergeborenes, is verder onder verpligting want, GOD sê in Eseg. 3:18:  “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.” 

 

Hoe verskriklik tog!

 

Maar God is regverdig en Hy voeg by:  “Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.”

 

Dis hoe regverdig die Vader is!

 

Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie.

 

Die doodstraf geld weliswaar nie langer in SA nie, maar diegene wat in die Dodesel was, beskryf dit as die voorportaal van die Hel.

 

“Dit is seker die ergste wat ‘n menslike wese kan verduur,” het Margaret Rheeder gesê wat vier maande in die Dodesel was.

“Bedags gaan dit aan, maar snags kan ek nie slaap nie. Ek huil en bid die nagte om.  Ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek hoop en vertrou dat God my uit hierdie aaklige Dodesel gaan lei,” het sy gesê.

 

Margaret, wat haar man vermoor het deur gif op sy toebroodjies werk toe te smeer, het geweier om die Dodesel te verlaat die oggend toe hulle haar gaan haal het om opgehang te word.  Sy moes met geweld daaruit gesleep word.

 

Maria Lee was 124 dae in die Dodesel.  Sy het volgehou dat sy onskuldig is, maar het sonder bystand die gang na die galgkamer afgestap.  Terwyl sy by die ander selle verbygeloop het, het die lied “Bly by my Heer” uit die selle opgeklink.  Sy het saam gesing.

 

Op die valdeur se merkie het sy saggies “Rus my siel, jou God is Koning” gesing.  Sy het net “Jesus” uitgesnik toe die galgtou oor haar kop afsak.  Sekondes later is sy die ewigheid in.

 

Duncan Moodie het die Dodesel soos volg beskryf: “In die Dodesel is niks in die menslike verstand normaal of blywend nie. In jou ontsteltenis gaan gedagtes in vlietende sekondes verby.  Net soos die sand in ‘n uurglas, loop alles vinnig uit om nie weer herroep te word nie.  Daar is net een beeld wat jou immer en helder voor die gees staan, soos vanoggend se droom – jou kinderdae.”

 

Moodie was ontsettend bang vir die dood.  Later is vertel dat hy na die galg gedra moes word.

 

Marthinus Rossouw wat Baron Dieter von Schauroth vermoor het, se pa, mnr Gawie Rossouw, het gesê:  “Ek het hom in die Dodesel besoek.  Dit was verskriklik.  Dit voel asof jou hare van jou af rys.  Ek weet nie hoe my seun die Dodesel kan trotseer nie.  Dis eenvoudig vreeslik.”

 

Clarence Gordon van Buuren wat gehang is weens die moord op Myra Joy Aiken, het die Dodesel soos volg beskryf:  “In die skadu van die galg, waar ek my laaste dae in stilte en bepeinsing deurbring, dink ek aan die onberekenbare verdriet en skande wat ek op my dierbares geplaas het.  Ek het bitter berou, maar berou kom te laat.

 

“Die vrees vir die dood is nie so erg as die afwagting in hierdie verskriklike sel nie.”

 

Jan Hendrik Munnik wat gehang het oor die moord op ‘n 15‑jarige meisie, het  gesê:  “Die hel en al sy magte kan nie so nimmereindigend wees soos die dae, veral die laaste drie, wat ek in die Dodesel deurgebring het nie.”

 

Munnik het sy dae in die Dodesel so deurgeworstel dat beamptes gevrees het dat hy heeltemal ineen sou stort.

 

Alfred Percival von Zelt, wat ook opgehang is, moes die volle tydperk van sy verblyf in die Dodesel inspuitings kry om hom van ‘n algehele senu‑ ineenstorting te red.

 

Coenraad Bezuidenhout wat die dubbele moord op Martha Saayman en haar 17‑jarige dogter gepleeg het en daarna homself verwond het, het sy dae vol smart en pyn in die Dodesel deurgebring voordat hy gehang is.

 

“Ek kan met niks anders as my lewe betaal vir die wrede moorde wat ek op Anna en haar moeder gepleeg het nie,” het hy in die Dodesel geskryf.

“Maar mag die dood, wat vir my geen verskrikking inhou nie, tog spoedig aanbreek.  Hier is ‘n mens so naby en tog so ver van die dood.  Elke asemhaling in die Dodesel is soos ‘n druppel gif wat jy drink en wat jou uiteindelik doodmaak.”

 

‘n Pa – sy naam kan nie genoem word nie om die kind te beskerm – wat sy 10‑jarige dogtertjie verkrag het, was rasend van verdriet en het diepe berou in die Dodesel getoon.

 

“Ek sien gedurig die gesiggie van my kind voor my.  Snags kan ek nie slaap in die helder verligte Dodesel nie.

 

“Die Dodesel is ‘n plek van verterende vuur wat binne ‘n mens brand.  Dit brand die lewe uit jou uit.  Hier is jy gevoelloos, sonder gedagtes met ‘n besmette gewete.”

 

Hy het nie snags geslaap nie.  Met uitgestrekte hande het hy telkens na die dak gegryp. Dan weer het hy sy hande al langs die mure gevryf en uiteindelik het hy nog ‘n keer gekniel en hardop gehuil en gebid.

 

“Die brandpyn in my murg en gees verlaat my nooit nie.  Dis ‘n verterende, onuitblusbare vuur,” het hy sy laaste dae in die Dodesel beskryf.

Ons vertoef nog ‘n rukkie in die voorportaal van die Hel.

 

Die betroubaarheid van ‘n sterwende se laaste woorde is sonder gelyke. Selfs leuenaars praat dan die waarheid.

 

Een blik op iemand se sterfbed verraai dikwels meer as al die belangrike woorde en dade van sy hele lewe.

 

Wanneer ‘n mens die dood in die oë kyk, val maskers weg en staan ons naak voor God. Die dag voor die groot Wit Troon, sal daar geen geheime wees nie, almal sal alles weet.

 

Menigeen moet dan erken dat hy op sand gebou het.  Hulle het hulself aan sinsbedrog oorgegee en ‘n leuengees gevolg.

 

Aldous Huxley skryf in sy boek  “A Beautiful New World” dat ‘n mens  alle dinge so moet beoordeel asof jy dit vanaf jou sterfbed sien.  “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom”. Ps. 90:12. 

As jy vandag getuig dat jy kind van God is, dan is en bly jy onder ‘n Goddelike verpligting om jou getuienis uit te dra in woord en in daad.

 

Die opdrag is vandag aan elke kerkgenootskap, elke gemeente, elke lidmaat: Waarsku die goddelose teen sy goddelose weg sodat sy bloed nie van jou hand geëis sal word nie!

 

Ons is nie gered om Hemel toe te gaan nie, ons is gered om die Koninkryk van God te bou. Daar is diegene wat  beweer dat hierdie taak uitsluitlik aan die herders van gemeentes opgedra is. Nee, elkeen van ons is geroep tot diensbaarheid.

 

Herders kry nie lammers nie, skape wel.  Die herder beskut sy skape en leer hulle.

 

Daarom is daar ook aan elkeen van ons toerusting gegee om die taak mee te verrig. Predikante is niks meer as voltydse ouderlinge nie.

 

Daar staan ook nie geskryf dat ons geboue moet oprig, dit kerke moet noem en dan daar binne bidure moet hou waarin ons bid en smeek: “Here, stuur die siele in,” nie.

 

Die opdrag is elke keer dat daar uitgegaan moet word om die siele in te bring, uit te vaar na die diep kant van die lewe toe en  nette der nette vol in te bring.

 

“Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die Woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.”  (Mark. 16:20)

 

“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.”  (Joh. 20:21)

 

Die Bybel leer dat die Vader die wedergeborene as ‘n werkende vennoot in Sy planne en werke beskou.

 

God en Abraham tesame het ‘n groot “nasie” (Israel) geskep. God en Moses het saamgespan om vir ons die Tien Gebooie te gee wat die grondslag van alle siviele en sedelike wette vandag is.  Dit is deur God en Moses tot stand gebring.

 

Jesus self was ‘n vennoot van die Vader in die werk van verlossing.  Hy sê:  “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?”  (Luk. 2:49).

 

Paulus, die ywerige en bekwame sendeling, versoek alle Christene om te onthou dat ons gered is om te dien. “Wees nie traag in die ywer nie, wees vurig van gees, dien die Here.”  (Rom. 12:11).

 

Ons kan ware kinders van God wees, maar die vraag is of ons, ons  lewens  in totaliteit aan Hom oorgegee het. Is ons nog in beheer van sekere sektore van ons lewe, of is God  Heer en Meester van ons ganse  bestaan?

 

Hy sê Hy is ‘n jaloerse God. Hy wil volle beheer hê. Hoe gouer dit gebeur, hoe  gouer begin ons floreer.

 

Die rede hoekom ons nie by die sterwe in Christus uitkom en waarom ons nie groei en floreer nie, is omdat ons nie self die Bybel bestudeer nie. Ons gaan eerder ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis.

 

Dit is geen regverdiging om nie te weet nie.

So sit ons dan ook keer op keer onwaardig by die Nagmaaltafel aan en kan nie begryp waarom ons sake nie floreer nie.

 

Ons kan nie verstaan waarom oordele ons tref nie, maar ons waag dit om onwaardig by die Nagmaaltafel aan te sit.  Ons het met ‘n Lewende God te doen, nie met ‘n ritueel nie.

 

As ons die Vader aktief dien, dan kan ons ook verwag om die Vader aktief in ons lewens te sien, dan kan ons God se seëninge verwag, dan kan ons oorvloed verwag.

 

Wanneer ons onsself aan God oorgee, begin ons ‘n sakevennootskap met God.  Ons word “medewerkers van God”. ‘n Vennootskap met God is ‘n saak waarin God die kapitaal voorsien en ons die arbeid. Hy voorsien die wysheid, die mag en die middele (finansies, ens.) en ons verskaf die diensbaarheid.

 

Daardie vennootskap word ook weerspieël in ons huwelike. ‘n Huwelik is ‘n drieledige Verbond tussen man, vrou en God. ‘n Verbond is ‘n kontrak, dit mag nie verbreek word nie en God  sê self dat, wat Hy saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Wat op die aarde gebind is, is ook in die Hemel gebind. Die huwelik is ‘n Goddelike instelling.

 

So is ons wedergeboorte ‘n Goddelike instelling. Ons moet weier dat enigiets of enigiemand daardie verhouding, daardie Verbond, tussen ons en ons Skepper, ons Vader, verbreek.

 

God wil Homself betuig en Hy het ons uitverkies as ‘n kanaal deur wie Hy Sy mag en besluite kan betuig.

 

Ons is geroepe diensknegte en getuies – medewerkers    God voltooi Sy werk deur van ons gebruik te maak.

 

“Ek sal jou die sleutels van die Koninkryk van die Hemele gee, en wat u ook op die aarde mag ontbind sal in die Hemel ontbonde wees, en wat jy op die aarde bind sal in die Hemel gebind wees.” (Matt. 16:19).

 

God is die enigste Eienaar van Sy saak. Hy besit die planeet Aarde (Ps. 24:1;  50:10), ook al die rykdomme (Haggai 2:8); Hy besit jou en my lewens (Rom. 14:8); God, in Sy goedertierenheid het elke mens ryklik bedeel met sekere gawes, talente en moontlikhede.  Die dinge moet nie selfsugtig of tot ons eie voordeel aangewend word nie, maar tot verheerliking van God en die vestiging van Sy Koninkryk.

 

“Doen alles tot verheerliking van God.”  (1 Kor. 10:31).

 

“Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in jul liggaam en in jul gees wat aan God behoort.” (1 Kor. 6:19‑20). Ons is rentmeesters van die gawes wat God ons gegee het.

 

Ons is rentmeesters van ons tyd. “Koop die tyd uit omdat die dae boos is.”  (Ef. 5:16)

 

Moenie jou tyd verkwis nie. Ons is rentmeesters van ons talente. Jesus het ‘n harde oordeel uitgespreek oor die man wat uit vrees sy talent begrawe het. Lees aandagtig Matt. 25:28‑30.

 

Ons is rentmeesters van ons geld. Geld is ‘n gawe van God en moet tot Sy eer gebruik word.  Lees 1 Tim. 6:10.

 

Ons is ook rentmeesters van die Evangelie. Die roeping om die grootste nuus op Aarde te verkondig, is aan die verlostes gegee.

 

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.”  (Hand. 1:8).

 

Die Heilige Gees is die Gees van God. God woon en leef in die gelowige. “Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom en hy in God.” (1 Joh. 4:13‑17).  Die Heilige Gees is Krag.  Hy is die Krag van God in die lewe van elke gelowige.

 

Die doping in die Heilige Gees is die werking van die Heilige Gees in die gelowige se hart soos op die dag van Pinkster, m.a.w. bekragtiging tot diens.

 

Nêrens in die Woord van God is daar ‘n bevel dat Hy Sy magtige seëning op Pinksterdag beëindig het nie, maar die belofte lees steeds: “Want die belofte kom julle toe en jul kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”  (Hand. 2:39)

 

Voor die dag van Pinkster het die dissipels uit vrees vir die owerhede gevlug. Na Pinkster het hulle die troon van die Romeinse Ryk geskud. (Hand. 17:6).

 

Maar hulle het hierdie seën nie vir hulself gehou nie. Hulle het uitgegaan en gespreek en duisende het hulle bekeer. Hulle het geleef en gesterf tot verheerliking van die Evangelie en het die hele wêreld geskud.

 

God verlang manne en vroue vandag wat gevul is met die Heilige Gees om soortgelyke werke te doen, en meer werke te doen as wat Hyself gedoen het.

 

Is jy gereed daarvoor? —  Sjibbolet  

 


Ander Artikels